Hierdie reeks bespreek die foutiewe leringe van die hoofstroom kerk, waarin aangevoer word dat ‘Jesus’ die ‘wet’, die Torah (instruksies) van YAH sou vervul het en dit daarom nie nodig is vir christene om die ‘wet’ te onderhou nie. Wat meeste mense nie verstaan nie, is dat Yeshua wel die Torah van YAH nie net volledig vervul het nie, maar ten volle uitgeleef het. Hy het daardeur vir ons geleer hoe om ‘n nuwe lewenstyl te kweek waarin ons weet dat YAH se ‘wet’ die instruksies is waarvolgens ons moet leef. Sonder die ‘wet’ sal ons nie weet wat sonde is nie, derhalwe kan geen vergifnis van sonde plaasvind nie en Yeshua het dan verniet sy lewe aan ‘n folterpaal opgeoffer.
Tydens die uitsending van hierdie reeks gedurende 2021 het ons die volgende beskrywing uitgegee: “Weet jy van die bus wat jou hemel toe kan neem? Het jy al jou kaartjie bespreek en indien nie, hoekom wag jy nog? Meeste Christene is vas oortuig dat hulle ten tye van dood op pad is hemel toe, maar is dit werklik wat Skrif verkondig? Wanneer ons woorde van meeste predikers vergelyk met woorde van Skrif, is daar soms niks wat ooreenstem nie en ons besef dat woorde van kansels af verkondig word om ore te streel en bankrekeninge te vul. Hoe lank gaan jy nog die leuens glo wat uit kerke kom?”
Ons wil vertrou dat elkeen wat enigsins onseker is oor hul eindbestemming na die dood, hierby sal baat. Ons bespreek verskeie verkeerde leringe wat saam met die Rooms Katolieke kerk die hoofstroom Protestantse kerk binnegekom het, vele heidense gebruike en bygelowe waaraan sogenaamde gelowiges steeds vasklou, terwyl YAH se instruksies en reëls, die Torah, agterweë bly.
